In reaksie op ’n toenemende gebrek aan voedselsekerheid help ondersteuning vir die gemeenskapsgeleide sopkombuis, die Sonskyn Sopkombuis, om ’n kritieke vangnet vir kwesbare huishoudings in Loeriesfontein te versterk.
Hierdie tussenkoms het die sopkombuis in staat gestel om sy reikwydte te vergroot, en hulle bedien nou ongeveer 250 mense per week vanuit die plaaslike sportsaal. Maaltye sluit ’n gebalanseerde spyskaart van proteïen en groente in, wat nie net tot beter voedselsekerheid bydra nie, maar ook help om die waardigheid te herstel van diegene wat toegang tot die diens verkry.
“Hierdie ondersteuning en vennootskap stel ons in staat om konsekwent voedsame maaltye aan kwesbare lede van die gemeenskap en hulle gesinne te verskaf. Dit help om ons bedrywighede aan die gang te hou, terwyl dit waardigheid en hoop herstel. Ons kan nou voortgaan om ’n betekenisvolle impak te maak waar dit die nodigste is,” sê Marieta Kammies, voorsitter van die Sonskyn Sopkombuis.
Die Sonskyn Sopkombuis is in 2022 as ’n grondvlakreaksie op ’n toenemende behoefte gestig en het in Oktober 2024 meer bestendig begin werk onder leiding van plaaslike vrywilligers wat daartoe verbind is om te verseker dat niemand in die gemeenskap sonder ’n maaltyd hoef klaar te kom nie. Aanvanklik kon die sopkombuis tussen 50 en 70 mense bedien, maar namate die vraag toegeneem het, was die kombuis onder toenemende druk en moes dikwels mense wegwys as voorrade opgeraak het.
Ná gesprekke met die sopkombuis se raad het die windplase ’n dringende behoefte geïdentifiseer om ondersteuning uit te brei. ’n Gestruktureerde vennootskap is gevorm en het daarop gefokus om in die laaste twee weke van die maand weekliks rou kosvoorrade te verskaf. Hierdie tydperk is geïdentifiseer as veral uitdagend vir huishoudings wanneer SASSA-toelaes uitgeput is.
“Die inisiatief weerspieël die breër sosio-ekonomiese uitdagings waarvoor talle landelike gemeenskappe te staan kom. Deur voortgesette samewerking kan vennootskappe soos hierdie ’n betekenisvolle rol speel om op ’n praktiese en volhoubare manier op hierdie realiteite te reageer. Ons hoop dat ons steun sal help om die reikwydte van hierdie gemeenskapsopkombuis verder uit te brei,” sê Vanessa Fredericks, bestuurder vir ekonomiese ontwikkeling vir Loeriesfontein en die Khobab Windplaas.
Die Sonskyn Sopkombuis speel ’n noodsaaklike rol om kwesbare inwoners te ondersteun, insluitend bejaardes, mense wat met gestremdhede leef, en huishoudings wat periodes van finansiële spanning ervaar.
“Die sopkombuis het ’n plek geword waar mense weet dat hulle met sorg ontvang sal word, en vir talle gesinne maak hierdie ondersteuning ’n werklike verskil, veral teen die einde van die maand. Dit is meer as net ’n maaltyd – dit bring verligting en ’n gevoel dat die gemeenskap na mekaar omsien,” sluit Fredericks af.

